Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Grysblou bulte " deur C. LOUIS LEIPOLDT
" Grysblou bulte " deur C. LOUIS LEIPOLDT [boodskap #79883] So, 29 Junie 2003 20:52
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com

C. Louis Leipoldt
Grysblou bulte

Grysblou bulte voor my en die motreënmis op die pad,
En 'n pêrel-besaaide witdoring met sy bas en sy blare nat;
Nêrens die lag van die lug nie; die lied van die veld versmoor
Deur die sag, sag stadig sanik van die reën wat jy orals hoor.
Rou in die rond en route waar gister die rykdom was,
Geur van die geil blomruigtes en groen van die nuwe gras;
En die wêreld orals grys, verlate en eensaam-stil,
Krag ontbloot van kragte in die son se skyn verspil,
Soos 'n man wat moeg gebuk loop, sy hart deur haat versteen,
Met sy liefde lank verwaarloos, alleen, alleen, alleen!

Gryns teen my, hemel en wêreld, sonder glimlag, sonder groet,
Grimmig om skuldvergelding, vir bloed wat boet vir bloed;
Dek my die newelwolke en die motreënmis oor die pad,
Soos die takke van hierdie witdoring met sy bas en sy blare nat,
Hier waar ek skuil kan vinde in die aand eer die skemer slaan -
'n Groen-swart sluier om my as my laaste dag vergaan;
En my oë sien die lyke, my ore hoor die ween,
As ek huiwer in die skadu hier, alleen, alleen, alleen!

Ja, ek was ryk met die skatte van die rykste koningsprag,
Ryk in die ruwe weelde van my wilde heidenmag.
My woord was 'n woord van dwang vir wie woord of dwang verstaan;
En my heerskappy was hoog soos die lig van die nuwemaan.
Ek was koning van 'n volk, regter en hoof voorheen,
En ek huiwer hier vannag, alleen, alleen, alleen!

O wit-gekleurde geeste wat eenmaal mense was!
Rooi van die lippe en blou van die oë vergaan soos gras
Waarop die somerson met sy brandende strale skyn;
Groen in die môre die gras; verkwyn in die aand, verkwyn!
O wit-gekleurde geeste waarteen ek skuld bely,
Neem wat ek het, my lewe - neem dit en laat my bly,
Hier waar ek huiwerig wag op niks wat my siel kan seën,
'n Vonk wat nie meer lig het nie, alleen, alleen, alleen!

Nou is dit tyd vir my eer die dagbreek se perlemoer,
Bont met die môrebloed, in die ooste begin te roer -
Tyd om wat lewe hou, aan die swart geheim te gee,
Sonder om wins te vra soos die reën aan die gierige see.
Ek het gelewe, gewerk; is dit maklik of moontlik nou
Om iets wat ek ooit gedoen het, te ontdoen met my naberou?
Dek my die sluier van die nag en die motreënmis oor die pad,
Soos die takke van hierdie witdoring, met sy bas en sy blare nat!
Vorige onderwerp: " Winter " deur TOTIUS
Volgende onderwerp: " Die lewe is 'n grenshotel " deur HENNIE AUCAMP
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Do Nov 21 14:58:23 MGT 2024